Monthly Archives: Desember 2011

Vryheid van goeie maniere

Op een of ander stadium bevind jy jouself in ‘n ry.

Of jy daarna as ‘n “linie” of die engelse “row of people” verwys, die wese en gedragpatroon behoort dieselfde te wees, behalwe in Suid-Afrika. Vanoggend moes ek noodgedwonge bank toe en synde ‘n goeie Christelike seun met ‘n Calvynistiese opvoeding gaan staan ek maar agter in die ry wat reeds gevorm was.
Skaars gestaan drentel ‘n man deur die draaideure die bank binne, sleepvoetend by ons verby tot skuins langs die dame wat op daardie stadium heelvoor staan. Toe die kassiere “next please” roep, stap hy doodluiters vorentoe, stamp in die proses met sy skouer aan die voordame hier langs hom sonder ‘n sweempie van “jammer” of “verskoon my” of enige iets dergelik met ondertone van apologie. Stap bloot by haar verby tot by die kassier en druk ‘n depositostrokie en geld onderdeur die sekuriteitsvenster voor die kassiere. Verontwaardig gaan staan die dame toe maar weer kopskuddend voor in die ry, kyk om en fluister iets vir die dame agter haar. Laasgenoemde druk haar lippe tuiterig opmekaar en skud haar kop, kyk anderpad, kennelik afkeurend oor die vent se stormram taktiek. Niemand sê iets nie, kyk net. Toe die uitnek stormram klaar deur die kassiere gehelp is, draai hy weg en stap deur die draaideure die bank uit. ‘n Engelssprekende man skraap moed bymekaar en konfronteer die sekuriteitswag waarom hy die man toegelaat het om so blatant in te druk.
“Aai diednnt siee” is egter al wat die stommerik van ‘n sekuriteitswag kan sê. Jy lieg jou bliksem, dink ek, jy was skaars vyf tree weg..

Genugtig, hoe moeilik kan dit wees om te verstaan, of beter nog, te WEET dat die keersy van ‘n reg is ‘n verpligting! In ons land word goeie maniere oënskynlik as gedragspartrone van swakkelinge beskou. Bestuurders op ons paaie en veral taxidrywers, druk, waneer die impuls hul ookal beetkry, ander padgebruikers bloot eenvoudig uit die pad of sommer net voor hul in. Die “slagoffer” se misnoeë word gewoonlik met ‘n provokerende houding van “en wat gaan jy daaraan doen” begroet, soms selfs vingergebare terwyl die volgende “swakkeling” ook uit die pad forseer word. Ek het genadiglik ‘n lekker groot ryding waarmee ek enige vorm van minagting minagtend, en met rente, kan vergeld. Dom-onnosel hoe dit ookal klink; Ek weier dat my lewensruimte waarop ek geregtig is deur enige iemand beperk, beheer of regeer word, veral nie deur selferkende of-aangestelde anargiste nie.

Glo mense werklik dat hulle kan optree asof hulle net regte en geen verpligtinge het nie? Klink eerder vir my na psigiese ballingskap. Sterfling, bevryding, verpligting…

So ‘n rukkie gelede konfronteer ek ‘n “wooligan” oor sy minagtende manier waarop hy bestuur. “Yeah, it’s because I am black” snou hy my toe.
“Yeah, you are right. And also because you’re rude and obnoxious, contemptuous and seemingly stupid and cheeky as well” beklee ek hom toe maar met druppende sarkasme. Sou dit enigsins gehelp het om ‘n debat met hom daaroor te voer? Ek twyfel.
Hierdie minagting van landgenote laat my bloed deesdae baie vinniger kookpunt bereik as vroeër in my lewe? Is dit die kruis wat ek vir saligheid moet dra? Mensig, hierdie kruis voel deesdae vir my onhanteerbaar swaar.

(Sug)

13 Kommentaar

Filed under Uncategorized

Help ons, asseblief!

‘n Kort mannetjie wat die krane kon oopdraai as hy lag. Dis omtrent die beste beskrywing wat ek vir Hennie Cronje kan saamflans. Hennie en sy vrou, Martha, het net twee seuns gehad. Willem, die oudste, is predikant aan die Oos Rand terwyl Karel en sy vrou rekenaars en-progamme bemark iewers in Mpumalanga.
Beide was al ‘n klompie jaar getroud en het meer gereeld as dikwels, onder Hennie se skerp tong deurgeloop omdat hy nog nie Oupa was nie.
“Dink jy die Jirre gaan my soos Mathusalag laat oud worre, Wilhellim?”
“Het jy ‘n verdomde windbal? Huh, het jy?”
“Kareltjie?”
“Julle albei het windballe lyk dit vir my!” het Hennie sy seuns verergerlik getreiter as hulle kom kuier het, gelukkig altyd buite hoorafstand van die vroumense natuurlik.

Toe Karel en sy vrou uiteindelik hoor hulle is swanger, was Pa-Hennie hulle die eerste om die goeie nuus kry.

“Bokram, jou WitBlouBliksemse what-shall-we-call-it!” skree Hennie en stamp die kombuisstoel waarop hy gesit het sommer onderstebo toe hy opspring van waar hy by die kombuistafel gesit het. Besnot en tranerig omhels en soen Hennie sy vrou, toe sy skoondogter, en vir Willem en weer sy vrou al om die beurt. Hy vat sy vrou se gesig weerskante tussen albei sy hande vas; “Dolla, ek gaan Oupa word, ek gaan Oupa word, Ouma! Hoor jy, Ma, en JY Ouma, Mamma…”
“Stadig, stadig Hendrik” vermaan Matha toe hy sy skoondagter weer om die lyf vasgryp en uitbundig so ‘n duim of vier van die grond af oplig.
“Ouboet, kom sit, vertel eers” sê Martha en tel die stoel regop wat haar man omgestamp het.
“Waneer? Hoe, waar’t julle gehoor?” babbel-vra Martha deurmekaar terwyl sy haar neus met ‘n tissue tik en vee.
“Wag Ma, laat die kinners self vertel…” val Hennie haar in die rede en vryf met ‘n sirkelbeweging oor sy skoondogter se maag. “Hoe ver is jy, meisiekind?” wil hy nuuskierig weet
“PAPPA!” raas Martha gemaak-verontwaardig en vryf heen en weer met haar linkerhand oor die boonste deel van haar regterbors en dan verder tot op haar skouer en op in haar nek. Sy hou haar regterhand se wys-en langvinger ongelowiglik, saggies oor haar lippe en kyk haar seun met ‘n effense kopskud vas in sy oë.
“Haai my kind, die Jirre weet ons bid al so lank vir ‘n kleinding…”

‘n Meisietjie, Zandra, is op 7 November daardie jaar gebore, twee dae na Hennie en Martha se vier-en-dertigste huweliksherdenking. Nog voor sy behoorlik kon loop het Ouma en Oupa sonder seremonie Zandra vir hulself opgeëis. Willem en sy vrou kon net sowel glad nie kinders gehad het. So het Hennie en Martha jaar in en jaar uit vir Zandra grootgemaak – soos ‘n eie kind. Bedags was Zandra hul skaduwee en saans het sy tussen hulle geslaap. As hulle by die huis was, was Zandra daar. As hulle gaan kuier of vakansie gaan hou het, was Zandra saam. Elke denkbare ding wat mens vir jou eie kind doen, het Henneie en Martha vir hul kleindogter gedoen, ook kerk-toe gaan en sondagskool. Soos ‘n goeie pa, of Oupa in hierdie geval, het Hennie saans voor slapenstyd vir hulle uit die Bybel gelees, gebid en vir Zandra ‘n goeinag soentjie gegee. Willem en sy vrou het maar meestal op die agtergrond gebly. Daar was egter geleenthede waar meisiekind vir ‘n aand of twee by hulle kom slaap het, soms naweke ook maar andersins was Zandra altoos by Ouma en Oupa aan huis.

Op Zandra se vyfde verjaardag het die familie ‘n groot partytjie gehou. Daardie aand het Hennie soos gewoonlik uit die Bybel gelees. Met bidtyd herrinner kleinkind hom egter dat hy vroeër die dag gesê het dat sy nou ‘n groot meisietjie is, en sy voel dat sy voortaan vir hulle moes bid. Sonder teëspraak gaan kniel Hennie toe aan die oorkant van die bed en maak sy oë toe vir die gebed. Zandra begin toe bid.
“Liewe Jesus,..”
Na al haar dankies vir Ouma en Oupa, en die hond en die kat, en vir die bome, vir Mamma en Pappa, en weer vir die bome en blommetjie, oorval stilte haar. In gebedlose stilte loer Hennie nuuskierig met sy een oog na haar, knielend aan die oorkant van die bed, vingertjies inmekaar geklam, kennetjie rustend op haar duime. Konsentrasie spoel fronsed oor haar gesiggie, lippies prullend maar spraakloos, angstig onder die belofte van woorde. Skielik, soos sy gestop het, bid Zandra toe verder;-
“.. uhmmm, en Liewe Jesus, … help ons asseblief om nie donner en fokkit te sê nie. Amen.”
Hennie kan sy ore nie glo nie. Waar hoor die kind diè goed? Oopmond, stomgeslaan, staar hy na die selfondane glimlag en ronde ogies wat van oorkant die bed flankeer vir erkenning.
“Was dit mooi Oupa? nooi Zandra haar Oupa tot goedkeuring.
Hennie, steeds stomgeslaan, antwoord nie. Meteens bars hy onbedaarlik uit van die lag. Trane stroom en vloei oor sy wange soos hy lag. Naderhand lê hy op die naat van sy rug op die mat, trap denkbeeldig fiets met sy voete en lag so hard en onbeheersd dat Martha uit die kombuis kom kyk wat die twee aanvang.
“Hendrik, wat gaan aan, Zandrie?
Hennie krul en kruip op die mat rond. Zandra kniel by die bed, gesig in haar voorarms. Martha weet nie of hulle huil of lag nie want nie een van die twee kan haar antwoord nie.
Waaroor huil julle so” wil sy weet
“Ons lag..” forseer Hennie darem tussen sy lagbuie.
“Ek lag NIE!” skree Zandra skril en huil harder terwyl sy haar gesig probeer wegsteek tussen haar arms op die bed. Sy probeer vir haar ouma iets vertel maar tussen trane en snikke mompel sy egter so dat g’n mens kop of stert kan uitmaak wat sy probeer sê nie. Martha, oorbluf en onseker oor die petalje hier voor haar, kyk vraend eers na Hennie op die grond, èn Zandra aan die anderkant van die bed. In lag en huil probeer albei vertel oor hul saak sonder dat sy verstaan wat èèn van die twee probeer sê nie. Met die braktaal van Hennie wat lag, en diè van Zandra wat huil, kan Ouma nie anders as om te glimlag vir die eskapade wat homself voor haar afspeel nie. Opeens ontplof haar glimlag in ‘n volskaalse lag. Sy gaan sit op die bed, haar hand skud op Zandra se kop soos sy lag. Naderhand lê sy plat op die bed, rol links en regs soos sy lag. Toe sy op haar maag stillê, kyk sy op na Zandra. Met lippe saamgepers probeer sy haar lag onderdruk. Haar vra-gesig en-hande probeer ‘n verduideliking van die kind ontlok. Sy verloor haarself egter in nog ‘n lagbui voor sy ‘n antwoord kan kry. Haar gesig steek sy in die beddegoed weg soos sy lag, ontkennend dat sy vir HULLE lag. Sy probeer ook ‘n antwoord by Hennie kry – met dieselfde resultaat.
So rol en lag en huil die drie totdat Zandra uiteindelik daarin slaag om tussen die snikke en trane te sê; “Ouma, ek(snik), ek GAAN nie weer vir Oupa bid nie want (snik), want hy lag vir myyeee…” en huil toe maar weer verder met haar gesig in haar gevoude arms op die bed.
Heelwat later het die drie hulself uitgelag en-gehuil tot bedaring. Hennie het sy kleindogter op sy skoot getel, haar kop saggies teen sy bors vasgedruk en troostend met sy hand oor haar hare bly vryf. Martha het vir hulle Horlicks met warm melk en baie suiker gemaak. Nadat hulle dit gedrink het, het hulle gaan slaap. Bymekaar.

4 Kommentaar

Filed under Uncategorized

De Kleine Seningkies

Ek praat en verwys dikwels na die klein Seningkies, dat ek die twee karnallies maar vandag vir julle wys.

11 Kommentaar

Filed under Uncategorized

Krismis Retoriek

I played my drum for Him parrampapampam… 

Die woorde van Boney M se Little Drummer Boy dikteer die stemming op meeste verbygangers se lippe. Blink versieringsels omtooi elke winkelsentrum tot ‘n feestelike karnavalterrein. Helderrooi en-groen en-geel ligslange kronkel teen boomstamme en lamppale, verlig die straatstegies in ‘n dowwe ambiance van behaaglik.  Vrolike kersliedtjies sweef in die lug, kompeteer met mekaar en nooi verbygangers om saam te sing. Bo die strate, in die lug sleesleep en spring Sinterklaas se bokke in ‘n elektriese kleurspel tussen goue klokke en kranse van denneboomtakke waaronder jong paartjies mekaar giggelend soen. Kelners en kelnerinne dra lang, slap rooi en wit slaapmusse, bedien feesgangers in straatbistro’s. Vuurblasers en harlekyne vermaak in jillende applous van feeskinders met hul waagmoed. Geseënde Kersfees, Geseënde Kersfees! Vreemdelinge waai en lag, groet met die hand, kus in die verbygaan mekaar op die wang. Die motorwag word met Kerswense’n beduidende fooi in die hand gestop. Hande bymekaar met ‘n effe kniebuig aanvaar hy die fooitjie met ‘n dankbaar glimlag. Thank you, Sir. Thanks Madam, and a Happy Christmas…

As kinders het ons gesin altyd die Kersfees kerkdiens bygewoon. Hoewel die teologiese boodskap van Kersfees aan ons kinders bekend was, het ons opwinding die diens net-net verduur. Dominee het homself telkens herhaal oor die wonder van die geboorte van Christus en die verlossing wat dit bring, of so het dit altans vir ons gevoel. Ons kon nie wag dat hy soos ‘n hensopper sy seënhande in die lug moes uitstrek nie. In die laaste galms van Amen het ons dan ‘n bie-line vir die naaste deur gemaak, tot groot onsteltenis en skaamkry van ons ouers. Vir ons het Kersfees oor die geskenke en die koek en lekkers gegaan, en die moontlikheid van ‘n pak slae op Kersfees was skraler as ‘n maergatkraai in die Sahara. Raas was egter ons Baas en vir ons straf moes ons gewoonlik vir die oumense Kersliedtjies sing en rympies van Liewe Jesus opsê. Die kool was natuurlik absoluut die sous werd en het ons liefies gesing en rympies opgesê, oë vasgenael op die Kersgeskenke onder die boom. Ek wonder vandag steeds of ons hoegenaamd van hierdie straf vrygestel sou wees indien ons na die kerkdiens almal met die hand gegroet en seën toegewens het. Dalk nie.

Ek geniet Kersfees steeds. My opwinding vind egter nie meer gestalte in MY kattekwaad-waagmoed nie, maar as Pa saam my Vrou in ons kinders se opwinding en onskuld oor
Kersfees. Ons geniet hul onbeheersde nuuskierigheid en vrae oor die geheim wat met kerspapier toegedraai is, en die vindingryke manier om kersgeskenke so oop te maak en te loer dat niemand ooit daarvan weet nie. Ons geniet ook hul ritmiese saamsing en -spring op die maat van parrampapampam…

Kersfees en die kersgees bly maar lekker, of jy nou agt of agtien of selfs tagtig is. Kinders, die trotse Pa’s en Ma’s van more en oormore, moet Kersfees sodanig ervaar dat ook hulle dit vir die res van hul lewens geniet.

6 Kommentaar

Filed under Uncategorized

Sondes een, twee, drie…

Nou ja, Toortsie en Kameel draai ons almal se arm oor onse sewe sondetjies dat ek in die gees van Krismis nou wraggies nie lus het vir stry nie.

Hier is myne;

Ek is meester van die halfpadmerk; Begin alles met ‘n moerse “bang” en oormaat energie om so padlangs stoom en lus te verloor. Ek maak altyd klaar maar mensig, soveel van ‘n dikbek wil ek myself nie gade slaan nie.

Ongeduld en ek is groot maats – wil elke dag my eie gat skop omdat ek dikwels te laat agterkom dat ek verlei is tot die paradys van kort lonte.

Ek sien die omslag en maak adversiewe afleidings – veral as die omslag vol spel-en optelfoute is. Die pertinente afleidings swyg ek eerder in skaamte dood.

Taxidrywers word nooit, nooit na my Krismispartytjies genooi nie. Die konkoksie van hul minagting en my aggresie daarteenoor druis lynreg met my voortgesette lewe buite die tronk.

Ek is te eerlik om teenoor ma’s te koetjie-koetjie-koe-koeee oor hul babas wat regtig nie vir my mooi is nie.

Ek dink my deursnee geslagsgenote is ‘n klomp slapgatte wat geen kennis of respek toon vir die behoeftes van vrouens en kinders nie. Die detail swyg ek eweneens morsdood…

Ek is onbeskaamd trots en ongevraagd uitgesproke oor die Afrikaner se  opvoeding en dissipline, en dikwels vermakerig teenoor ander se ontstentenis daarby.

Daar het julle dit!

Gelukkig dra ek deesdae my eie onderbroeke. So, klipgooiers, laat waai maar.

12 Kommentaar

Filed under Uncategorized