Asseblief, wees stil…

Vroegoggend vingerloop ek op my iPad deur Facebook, sommer net vir nuuskierigheid. Daar loop ek my vas in ‘n helse bekgeveg. Klomp mense, elk met ‘n eie weergawe van die Bybel as visa tot die koninkryk van hoogheiliges, skel mekaar oor rassisme! Kan jy nou meer, rassisme van alle dinge! Ek sou dink dat dié klomp, oorwegend pienk in voorkoms, op hierdie stadium al gatvol is vir enige gesprek wat na rassisme ruik. Waarom sou hulle nou rassisme misbruik om mekaar sleg te sê of mekaar van allerhande booshede te beskuldig eerder as enige ander onderwerp denkbaar. Huh-uh, nie hierdie spul bleeksiele aan die suidpunt van Afrika nie! Hulle bliksem mekaar met allerhande klagstate en beskuldigings, geskryf met die bloed van rassiste…

“As jy nie kan sien dat jy rassisties is nie, is jy deel van die problem…” skree een sy woorde op my tiewie se skerm. Waar het ek hierdie woorde al gehoor? Ek wil-wil  ‘n paar raaiskote waag maar die beskuldigings vlieg so woes op en van my tiewie se skerm dat my vingerloop ‘n hardloop word. Iemand sleep vir Steve Hofmyer by en in ‘n oogwink verander die geveg tot intens…

Ek verander die kanaal. Roger Whittaker verjaar vandag. Kan jy glo, dié man is vandag al vyf en tagtig jaar oud. Bliksus! Ek ek is sedert kind ‘n groot aanhanger van sy musiek en besluit daar en dan hy is vyf en tagtig jaar jonk! Hy het ‘n liedjie by Judy Collins geleen met die naam “Both Sides Now”. Dis geskryf deur ‘n Kanadese meisie, Joni Mitchell, wat as sigeuner dikwels besondere lewenswyshede raakgeskryf het. In Both Sides Now beskryf Joni haar ervaring van waar sy as kind gefassineer was deur wat sy in wolke kon sien, teleurgestel was deur liefde en die lewe in die algemeen. Ironies kom sy elke keer tot die gevolgtrekking dat sy nie die wolke, die liefde of die lewe werklik verstaan nie. Dikwels, in ons eie lewe, besef ons dat ons kennis, hoe omslagtig dit ookal skyn te wees, ontoereikend is om hierdie klein wêreld te verstaan. Hierdie besef kom wanneer ons die wêreld en sy mense bepeins, as ons sin soek in dit wat ons verontwaardig laat. Die Beatle George Harrison het ook by tye wyshede kwytgeraak, soos toe hy gesê het “the more I learn, the less I know…” Dit gebeur net as jy die wêreld objektief bejeen, as jy beide kante gesien het, en eerlik is daaroor…

Ek dirigeer my tiewie terug na die bekgeveg. Dit woed steeds. Dogmatiese, en dom, dink ek. Een van die eienskappe van mense wat vrede gemaak het met die feit dat jy die wêreld of die lewe nooit werklik sal verstaan nie, is hul vermoë om stil te wees. Ek sit die iPad af en dink aan Joni Mitchell se liedtjie. Dis ‘n pragtige liedtjie wat streelsag in my oor lê. Ek wonder of klinkende metale of luidende simbale die karakter van die liedjie sou verander het? Ek twyfel. In stilte.

Lees gerus wat Joni geskryf het…

Rows and flows of angel hair
And ice cream castles in the air
And feather canyons everywhere
I’ve Looked at clouds that way

But now they only block the sun
They rain and snow on everyone
So many things I would have done
But clouds got in my way

I’ve looked at clouds from both sides now
From up and down and still somehow
It’s cloud’s illusions I recall
I really don’t know clouds at all

Moons and Junes and ferries wheels
The dizzy dancing way that you feel
As every fairy tale comes real
I’ve looked at love that way

But now it’s just another show
You leave ’em laughing when you go
And if you care, don’t let them know
Don’t give yourself away

I’ve looked at love from both sides now
From give and take and still somehow
It’s love’s illusions that I recall
I really don’t know love at all

Tears and fears and feeling proud
To say, “I love you” right out loud
Dreams and schemes and circus crowds
I’ve looked at life that way

But now old friends are acting strange
They shake their heads, they say I’ve changed
Well something’s lost, but something’s gained
In living every day

I’ve looked at life from both sides now
From win and lose and still somehow
It’s life’s illusions I recall
I really don’t know life at all

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized

Karakters en reënboë

‘n Seder het geval. Uit Newlands…

Jimmy Abbott is die afgelope naweek oorlede. Sedert die nuus rugbaar geword het, het staaltjies, herrinneringe en huldeblyke oor Jimmy se nederige agtergrond, sy loopbaan as bokser, stoeier, skuldinvorderaar asook pastoor in omtrent al wat media is, verskyn. En dis reg en goed dat Jimmy erkenning kry, want hy was verseker een van die grotes in ons land se sportgeskiedenis, letterlik en figuurlik. “Jimmy het swaar grootgeword, om dit lig te stel. Vir hom was boks ‘n geval van oorlewing” het die bekende skrywer Dana Snyman op sy Facebook-blad geskryf. “Koebaai, Jimmy. Koebaai. Jy is ‘n champ” sluit Snyman sy huldeblyk mee af. Die Springbok Kobus Wiese het gesê alles van Jimmy was groot – sy statuur, sy liefde vir die Leeus rugbyspan, sy toewyding aan die Here, alles…

Mý eerste herrinneringe van Jimmy is ‘n wilde jong man wat bereid was om elke denkbare uitdaging die hoof te bied, of dit nou finansiële uitdagings vanwee nederige grootwordjare of bekroonde opponente in die bokskryt was. Jimmy het vir alles kans gesien. Ek is nie aldag seker of jeugdige arrogansie of swak raad Jimmy se loopbaan as bokser bepaal het nie. Hoe dit ookal sy, hy het met ‘n baie beperkte infrastruktuur ongelooflike welslae as bokser behaal. Die wyse waarop hy vir Kallie Knoetze binne een rondte verwoes het, skree ten hemele dat Abbot as bokser baie meer erkenning moes kry as wat wel die geval was. Nou, ná sy dood, getuig die wêreld oor Jimmy se deugde. ‘n Bekroonde sportskrywer noem Jimmy nimlik – ‘n lieflike, vriendelik en beminde reus.

Weinig profete en helde kry in hul leeftyd die erkenning en eer wat hul toekom. Jimmy Abbott word vandag as skitterende bokser onthou en sal bes moontlik binnekort in een of ander “hall of fame” ingehuldig word. ‘n “Hall of fame” is heilige grond waar persoonlikhede en helde onthou en vereer word vir die roem wat hulle verwerf of toegeval het. Boks ook. ‘n Magdom sportkarakters en -persoonlikhede sal hierdie eer nooit smaak of verwerf nie.

Hierdie is nie ‘n tradisionele huldeblyk aan Jimmy Abbott nie, my talente skiet kort daarvoor. Die bekende refreine wat die handel en wandel na Jimmy se dood kenmerk, waar elke Piet, Paul en Klaas aandring om ‘n basuin by ‘n vars graf te blaas, eis wel my aandag. Jimmy se lewe het wonderlike rigtingwysers nagelaat waarin die karakter Jimmy Abbott ‘n hoofrol gespeel het. Dít vang my oog. Die beeld, die platjie, in die skadu van Jimmy die bokser, Jimmy die skuldinvorderaar, Jimmy die lekeprediker, Jimmy wat by die Boksburgmeer hom vir grapjas Leon Schuster vervies, oorrompel en moeiteloos oor ‘n tafel gooi. Dis wat my oog hier sien, ‘n karakter…

Karakters is mense met deugde en denke wat die nuttigste is vir ander mense, aldus Aristoteles. Sport en die sportwêreld word deur karakters beïnvloed en ontwikkel, meer as enige ander rolspelers in sport. Dit wat karakters doen en sê onderskei hulle van deursnee deelnemers. ‘n Sêding, ‘n metode, ‘n persoonlikheid word bekend, berug of gewild en vestig die aandag op die karakter. Soms haat aanhangers karakters, bewonderaars daarenteen verafgood karakters en probeer dit wat die karakter uniek maak, nadoen. Só ontstaan karakters en word sport bevorder, gewild en bekend maak.

Boks is bekend vir karakters. Muhammed Ali met sy oënskynlik onbeperkte arrogansie is bes moontlik die bekendste karakter in bokskringe. Ali het deelgeneem aan van die grootste gevegte in die boksgeskiedenis, waaronder die “geveg van die eeu”, die sogenaamde “Rumble in the Jungle” asook die “Thrilla in Manila”. Hy was bekend vir sy politieke standpunte en is van sy swaargewig-titel ontneem nadat hy geweier het om in die Amerikaanse weermag opgeneem te word om in die Viëtnam-oorlog te veg. Waarskynlik meer beroemd as dit alles, is sy tydlose aanhalings. “Floats like a butterfly, sting like a bee” is een van tientalle sêgoed waarvoor Ali bekend is. Miskien die aanhaling wat Muhammad Ali die beste saamvat: “I am not the greatest, I am the double greatest. Not only do I knock em’out, I also pick the round in which I do”. Op die plaaslike bokstoneel is karakters “meerendeels met minlike byname vereer. Mike Schutte was “die tenk”, Kallie Knoetze “die Bek van Boomstraat”, Gerrie Coetzee was “seer handjies Coetzee”, Harold Volbrech “die Hamer”, om maar ‘n paar te noem.

Die rugbywêreld het ook ‘n lywige versameling karakters. Volgens Paul Dobson het niemand in Suid-Afrika soveel rugby-vreugde opgelewer soos die geliefde Oom Boy Louw se stryd met Engels nie. Sy “looks at the scoreboard” het kultusstatus verwerf voordat ek enige daglig aanskou het.

Nigel Owens van Wallis word allerwee beskou as een van die beste rugbyskeidsregters van alle tye, ‘n kleurvolle karakter. Owens het bekendheid verwerf vir sy skerpsinnige humor op die veld wat hom geliefd gemaak het onder rugbyondersteuners regoor die wêreld. Tydens die 1991 wêreldbeker-eindstryd het Owens ‘n strafskop aan die All Blacks toegeken. Dan Carter het nadergestaan om die strafskop waar te neem en toe hy langs Owens kom staan sê Owens argeloos, “Don’t swear, now, you’re on telly, mun.” Naas Botha se “die Curriebeker word nie in Mei gewen nie” verdien ook melding.

Krieket is bekend vir “sledging” en karakters. “Sledging” is ‘n poging om ‘n kolwer verbaal te misbruik, of te ontstel, in ‘n poging om hom konsentrasie te laat verloor om sodoende sy paaltjie weg te gee. Dis dikwels aanstootlik, soms amusant, altyd ‘n onderwerp vir interresante gesprekke. Australië se Merv Hughes word beskou as ‘n karakter onder karakters. Die “corridor of uncertainty” is ‘n gebied net buite ‘n kolwer se wegpen. Die naam is afgelei van die mening dat dit die gebied is waarin ‘n kolwer die meeste sukkel om te bepaal of hy vorentoe of agtertoe moet speel, of om die aflewering deur te laat. Tydens die toer van die Windies in 1988-1989 het Australië se kaptein, Allan Border, vir Merv Hughes opdrag gegee om in die “corridor of uncertainty” te boul. “Yeah, yeah, sure Cap’…” was Hughes se reaksie. Aan die einde van die boulbeurt stap Hughes na ‘n spanmaat en vra “Mate, where the f*%$ is this corridor of uncertainty?”

Daarbenewens het Hughes ook bekendheid verwerf vir ‘n paar kwinkslae teenoor opponent op die veld. Toe Javed Miandad van Pakistan hom ‘n vet buskondukteur noem, het Hughes hom met die volgende bal skoongeboul en luidkeels geëis: “Kaartjies asseblief!”. Tog was hy soms ook aan die ontvangkant soos in sy onderonsie met die Engelse kolwer Robin Smith. Huges het soos ‘n waansinnige goederetrein ingestorm en na Smith geboul. Smith het na die aflewering gespeel en gemis waarop Hughes hom toegesnou het “you can’t f***ing bat”. Smith het nie daarop reageer nie en die volgende bal vir ‘n vier geslaan waarop hy aan Huges gesê het “hey Merv, we make a fine pair. I can’t f***ing bat and you can’t f*** bowl”!

So kan jy van sportsoort tot sportsoort beweeg en in elkeen sal jy besondere mense, karakters, aantref wat hulle van hul tydgenote en meededingers onderskei het. Gimnastiek spog met Nadia Comaneci, swem met Michael Phelps, tennis met John McEnroe, Ilie Nastase en Roger Federer. Usain Bolt het atletiek tot in die harte van bewonderaars gehardloop. Michael Schumacher het renbane regoor die wêreld aan sy voete gehad terwyl Pele sýne gebruik het om onvergeetlike doele in sokker te behaal.

Dit verbaas geensins dat sport roemryke prestasies van individue aan die groot klok hang deur hul name in die “hall of fame” te ets nie. Dit belê in die toekoms deur belangstelling van jong bewonderaars te prikkel en gee erkenning aan die verlede deur die nostalge van hardebaard veterane te streel. Huldeblyke die afgelope week aan verskillende fassette van Jimmy Abbott se lewe het my nostalgies aan dié reus laat terugdink. Soms moes ek walgooi teen die trane oor uitmergelende uitdagings wat hy as kind ervaar het, en met tye het ek spontaan en hardop gelag oor dinge wat Jimmy kleurvol gelaat het. Die lag-oomblikke het ek uiteraard baie meer geniet as om teen die trane te veg. Nodeloos het ek genot geput uit staaltjies waar die karakter Jimmy Abbott prominent was. Waarom het niemand dit nog oorweeg om ‘n “famous hall of characters” te begin nie? Ek voel ons moet erkenning gee aan die kleurvolle humor en kwinkslae wat sport se karakters baar met iets soos ‘n “hall of characters”.

Dankie dat jy hierdie saadjie kom plant het Jimmy, pastoor Jimmy. Ek gaan jou sagte handdruk mis, wanneer ons mekaar by Ellispark gegroet het. Jou twee sitplekke op Ellispark gaan voortaan leeg wees. As erflating het ons ‘n knapsak vol herrinneringe en karaktersketse in die kleure van jóú reënboog – Rooi en Wit en Swart van jou geliefde Rooibontes! Rus sag ou Grote…

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized

‘n Plek…

Vroegoggend bring Ma koffie, sit dit op die bedkassie langs my neer.

“Is jy wakker?”

Op daardie oomblik begin die alarm op my selfoon raas, met ‘n geluid wat ek nog nie voorheen gehoor het het nie.

“Heerlikheid! Het die kinders weer met my foon gepeuter?”

Ek soek en voel na die bedlig se skakelaar…

“Hoekom druk Maria die…uhppfff…verdomde.. skakelaar so styf teen die bed vas..?”

Uiteindelik vat ek die skakelaar raak en maak my selfoon stil. My vrou staan steeds langs my bed, glimlag skalks vir hoe ek skarrel. Ek lees haar oë…

“Ja toe, ek is nou wakker. Dankie.”

Ek vat ‘n slukkie koffie. Dit is warm en brand my mond, en ek sit die koppie weer neer.

Jy het nege onoopgemaakte boodskappe vertel die Facebook boodskapper vrypostig. Ek druk met my vinger daarop en byna oombliklik is Facebook op my skerm. In een van die groepe waarvan ek hou is ‘n interressante bespreking, met ‘n spul mense wat kommentaar lewer. Een van die kommentare vang my oog. Dis van ‘n wysneus wat met alles en almal verskil en teregwys op hul foute.

“Ag jirre ou broer…”

Ek maak facebook toe en sit die iPad op die bedkassie neer. Ek wil nie meer van sulke beterweterige drommels kennis neem nie. Dit voel asof ‘n magdom voorskriftelike wysneuse op die wêreld vrygelaat is, elkeen met ‘n opinie belangriker as alle ander, elk met ‘n teregwysende geur as ondertoon.

“Ek is té oud vir sulke stront!”

Die stilte van my eie gedagtes is deesdae ‘n welkom metgesel, veel eerder as vingerswaaiende nat-agter-die-ore wysneuse wat blykbaar alles en almal tot oorgawe wil beskuldig, ‘n klagstaat eindloos met gierige vermaak as storielyn. Ons gedagtes word deesdae met allerlei drogbeelde as rede oorheers – dodelike virusse wat die mensdom gaan uitwis, spoke van gevoellose rassiste wat tweehonderd jaar gelede gesterf het en nou herrys word vir geregtigheid wat deur hul afsterwe vrygespring is, diewe verryk op plundertogte van harde werk en slagoffers van die lewe, verontreg in bestaan, se pleidooi om vergelding. En ons wonder oor dié dinge, eerder om verwonderd te wees oor die wêreld. Ons fokus daarop om slagoffers van verontwaardiging eerder as bevoorreg in verwonderding te wees, terwyl Aristoteles leer dat verwondering die Moeder van filosofie is, nie verontwaardiging nie.

Die media, hoofstroom van wildehonde wat op ons gedagtewêreld losgelaat is, betoog en stry en oortuig dat ons in onregte gevangenes in hierdie barre landskap geword het, ‘n skuldgevoel ons bestaansreg kenmerk en dat die verlede die nuwe toekoms is. Alles natuurlik om ons te kondisioneer dat onafhanklike denke die hoeksteen van alle probleme is, teëspraak die teenpool van prestasie is en vrees om nie te presteer nie jong verbeeldings uitdaag om minder nuuskierig te deur die sosiale media onvoorwaardelik as enigste padkaart na verbeeldingsreise en -vlugte te aanvaar. Natuurlik in samewerking met onvermydelike groepsdruk waarin teregwysende voorskrifte oortuig dat ons nie die natuurlike vermoë het om hierdie reise sonder hulp aan te pak nie. Mense, veral jongmense, bestaan sonder verbeelding, sonder sin vir verwondering omdat hul gedagtewêreld deur voorskrifte en rede oorheers word. Taal is die ruimte waarin jong denke hul vryheid tot nuuskierigheid en verbeeldingsreise ontwikkel in poëtiese en filosofiese vermoëns, die hoeksteen waar ons verwondering oor die wêreld ontwikkel. Dit verras dus geensins dat taalontwikkeling, Afrikaans in hierdie geweste van die wêreld, ten alle koste vernietig moet word deur aanklaers wat die belange van die nuwe orde moet bevorder – ‘n flikkerende misleier tot ‘n brassery waar breindood massas baldadig omgaan… Dit is hoe ons, ons verwondering vir die wêreld verloor – bietjie vir bietjie. Kinders wat lag word stilgemaak terwyl hul verbeeldingryke kwinklsae met die winkelhaak van hoe aanstootlik die wêreld dit ervaar. Ons verwag dat ons kinders bepaalde voorskrifte as optrede moet handhaaf. Die mate wat hulle slaag om hierdie voorskrifte slaafs na te volg reflekteer dan ook hul orde, prestasies en of hulle goedkeuring verwerf.

Ons was die afgelope naweek in Clarens en terwyl ons so deur die pragtige landskap van die Golden Gate omgewing gery het, vra my tienerseun waarom die mens so verknog is aan berge. Dis die grootsheid daarvan wat jou sin vir nederigheid stimuleer en jou verwonderd laat daaroor. Sekere dinge in die wêreld is eenvoudig so oorweldigend en mooi dat jy skuldig voel om selfs daarna te kyk – verwondering in voorreg, sonder grense…

Ons sal ons verwondering vir en oor die wêreld moet terugkry. Die jongmense praat gereeld en maklik van “awesome”, myns insiens sonder om werklik die inhoud en omvang daarvan te begryp. Ek huiwer om ‘n papegaai as voorbeeld te gebruik, hoewel ek voel dat dit mootlik gepas kan wees… Hoe leer ons, ons kinders wat “awesome” regtig beteken en hoe kry ons, ons verwondering terug? Eenvoud. Sonder kompitisie!

Ons moet eenvoudig op eenvoud fokus. Een van die kommersiële banke het ‘n tydjie gelede ‘n advertensie gehad waarin verklaar is dat eenvoud die suierste vorm van sofistikasie is. Ons moet hierdie siening omarm en dit as lewenswyse aanvaar. Ek het geen idee wat die perfekte resep daarvoor is nie en vermoed elke person se padkaart daarheen gaan van die volgende verskil. Ek deel bloot my (beperkte) idee waar ek gaan begin…

Ek wil wegkom van die gejaag wat my lewe in die stad kenmerk, na iewers waar minder mense is, waar ‘n horlosie ‘n nie-noodsaaklike besitting is en nie ‘n voorskrif of barometer nie. My huis moet eenvoudig wees, ‘n een-vertrek gebou is voldoende. G’n rekenaar of slimfoon of enige apparaat, wat my verbind met die wêreld waar leuens vir ‘n appel en ‘n ei verkoop word, wil ek hê nie. Ek wil kosmaak op ‘n vuur, en dit moet eenvoudige kos wees – vars groente wat ek self kweek en vis, wat ek by my deur in die see kan vang. Ek wil net genoeg klere het en een paar skoene. Elke oggend wil ek na die sonsopkoms kyk en elke aand na die sonsondergang, en elke keer moet ek neerskryf hoe dit vir my lyk. My vrou en kinders kan saamkom, as hulle wil.

Ek vertrou ‘n eenvoudige lewe soos hierdie kan moontlikhede en begrip skep vir mense wat oënskynlik oorleef omdat meelopers en – werkers van die nuwe orde hul verdra. Ongenaakbaarheid teenoor ander mense, wat die norm geword het, sal wyk voor genaakbaarheid teenoor mens, dier en natuur, waar ons uiteindelik sal sien wat ander sien, dink hoe ander dink en ervaar wat ander voel. Dit waarborg egter glad nie dat almal eensklaps sal verander in wyse individue wat die wêreld verwonderd en verbeeldingryk sal ervaar nie. Coenie de Villiers se daar’s ‘n plek verwoord my idee waarskynlik die beste;

Daar’s ‘n plek wat ek van weet

sonder sorge sonder pyn sonder leed

die pad daarheen is ongekaart

die reis daarheen is sonder vaart en

daar is rusplek langs die pad

Ek kan aan ‘n magdom lasposte dink wat sieldodend gefrustreerd sal wees indien daar niks is waarmee hy of sy my lewe kan versuur nie, soos die wysneus op facebook waarmee ek vroegoggend verpes is. G’n politikus, polities korrekte wat aanstoot neem oor donnerswil alles of klagstate op perkamentpapier sal in my lewe voorkom of dit versuur nie. Eenvoud sal die basis van my bestaan wees, sonder blink liggies of goeters wat kraaie sal wil steel of eis. Klink dit armsalig en buite bereik van gewone sterflinge se begrip? Bes moontlik. Ek moet jou waarsku, hoe meer jy daaroor dink, hoe meer idilies word die gedagte…

Kan 'n prent van lug en natuur wees

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized

Slaptjips en kaviaar.

Saterdae is nie meer dieselfde nie. Ek was ‘n koshuisbrak op Balfour en onthou dat Saterdae altyd gekenmerk was deur een of ander opwinding wat die koshuisgange laat druis het. Dié kinders wie se ouers vermoënd was, het naweke huistoe gegaan. Die res het naweke in die koshuis deurgebring en ongelukkig was ek deel van hierdie groep – die agtergeblewenes. Dit het egter geensins afbreuk gedoen aan ons vermoë om ons jeugdige avontuurlus met allerhande idees te bevredig nie. Met kreatiewe idees het ons, ons eie opwinding geskep en asof die tannies in die kombuis bewus was van ons onderdrukte avontuursin, was Saterdae se ontbyte gewoonlik ‘n snars groter en lekkerder as in die week. Wel, dit was immers hoe ek dit kan onthou…

Saterdae was gewoonlik besaai met allerhande sport, afhangend van die seisoen natuurlik. Of dit nou rugby of krieket, atletiek, hokkie of korfbal was, dit het nie saakgemaak nie want ons koshuisbrakke het aan alles deelgeneem. Veral ons agtergeblewenes het deelname as ‘n wonderlike ontvlugting van ons realiteite ervaar. Na middagete het die opwinding-barometer gewoonlik so ‘n paar kerwe gestyg want dan het ons gewoonlik die tyd na die middag se rugbywedstryd afgetel. Direkte uitsendings op TV was in daardie dae beperk tot die groot wedstryde soos Springboktoetse of Curriebeker finale. Op sulke dae was die opwinding onbeheers tasbaar. Op ander Saterdae was ons meer as tevrede om oor die draadloos na Gerhard Viviers se kommentaar van die rugby te luister. Gerhard Viviers, oftewel Spiekeries, se rugbykommentaar was eenvoudig legendaries en dit was g’n vreemd vir ‘n klomp agtergeblewene kosbuisbrakke om in ‘n sirkel om die draadloos te luister na sy kommentaar oor die wedstryd van die dag nie. Rugbywedstryde het gewoonlik half-vier op ‘n Saterdag middag afgeskop en so van kwart oor drie het ons nadergestaan na waar die draadloos ookal dié dag was. Gewoonlik het ons vooraf kollekte geneem en ‘n paar groengatte, juniors, dorp toe gestuur om ‘n enorme pak slaptjips te koop. Dié was natuurlik besaai met baie sout, asyn en rooipeper en almal kon daarvan eet, sommer so met die hand uit die wit vis-en-tjipspapier waarin dit toegedraai was. Ek wonder of daar enige iets in die wêreld is wat ‘n spul koshuisbrakke vinniger bymekaar kon bring as die reuk van slaptjips. Vandag nog sien ek in my geestesoog ‘n spul koshuisbrakke om ‘n draadloos as ek slaptjips ruik. Die tydperk tussen middagete en afskoptyd was ‘n ondraaglike lang tydperk vir ‘n opgewonde, honger koshuisbrak om te sit en wag. Dit was juis op een van hierdie ongeduldige wag-Saterdae dat ek toe vir Steve de Villiers op die draadloos raakdraai. Sy program, kantlyn kaviaar, is elke Saterdag voor die rugbyuitsending uitgesaai. Ek kan nie onthou of dit twee-uur of drie-uur was nie en die presiese tyd maak seker nie saak nie…

Steve de Villiers, eintlik óóm Steve de Villiers, het ‘n lekker gemoedelike stem gehad waarmee hy odes aan sportmanne en -vroue gebring het – soos die omies waarna ons as kinders geluister het as hulle hul oorlogstories vertel het. Jou oor was onmiddelik gemaklik daarmee en het jy sommer kruisbeen by sy voete kom sit en luister. Oom Steve het Saterdag na Saterdag sporthelde soos Jimmy Connors, Martina Navratilova, Arnold Taylor, Dawie de Villiers, Gary Player, ag te veel om te noem, aan jou kom voorstel. Die gemak waarmee oom Steve dié mense se heldedade in my jong, nuuskierige verbeelding geëts het, het my amper vrypostig met dié sterre gemaak, asof ons mekaar op voornaambasis geken het. Hy was ‘n groot aanhanger van die Britse sportskrywer en rugby commentator, David Parry-Jones en het gereeld van laasgenoemde se kwinkslae aangehaal in sy odes. “A try is ball that knocks the off-stump clean out the ground. A try is a punch to the point of the jaw. A try is, in short, an incontrovertible statement of relative merit”.  Vir Parry-Jones was ‘n drie in rugby dieselfde as enige sportprestasie in die oortreffende trap. Dit is presies hoe ek Steve de Villiers se vertellinge ervaar het en onthou – ongekompliseerd, brutal oortreffend en interresant genoeg om ‘n jong gemoed te boei met stories oor helde en heldedade. Al sy stories was vir my mooi. Almal was interresant maar soos met alles is daar ‘n paar wat ek beter onthou as ander. Jimmy Connors se heldedade in 1987 op Wimbledon, toe hy met twee stelle agter was en drie wedstrydpunte in die gesig gestaar het, se terugvegpoging om uiteindelik dié wedstryd teen Mikael Pernfors te wen, is een wat ek so helder soos gister onthou. So ook Naas Botha se liefde-en-haat verhouding met die skare op Nuweland, Gary Player se ongelooflike rekord as gholfspeler en ‘n jong Zola Budd se kaalvoet kaperjolle op atletiekbane regoor die wêreld. Elkeen van hierdie stories het kepe op my hart gekerf, ‘n liefde vir sport in my menswees geëtse. Die hartseer en pyn en opofferings van manne en vroue, soms kinders, wat sport op die hoogste vlak beoefen, het empatie en begrip in my verwese knapsak weggesteek. Deesdae, met grys skakerings in my baard ‘n reël eerder as die uitsondering, draai ek dikwels my morele kompas todat ek oom Steve se stem hoor, as padkaart vir waneer ek my heimwee deur die onafskeidbare landskap van sport en politiek moet lei.

Saterdag middag, op pad Bloemfontein toe, skakel ek die radio in die bakkie aan. Er-Es-Gee is nou koning waar Gerhard Viviers en Steve de Villiers hul semantiese kunswerke in alle kleure van die reënboog geverf het. Daar is geen rugby uitsending nie en die ritme in my ore, vul my met afgryse. Dis ‘n ritme en klank wat vreemd en hard op my oor druk en ek sit eerder die radio af. Die kaviaar het in die onbekende verdwaal en het vrot geword, vergete en verdoem  tot die geskiedenis wat deesdae ook maar selektief uit die rotse van ons landskap gekap word. Op Ventersburg hou ek stil en koop ‘n slaptjips. Dit word deesdae in ‘n vierkantige boksie bedien met twee los pakkies sout as troos. Die dame agter die toonbank kyk my aan asof sy ‘n spook sien toe ek vra of hulle asyn het. Ek wou nog vra vir rooipeper maar my moed oortuig dat die siel agter die toonbank nie twee spoke op een dag gaan oorleef nie. Ek betaal en loop buitentoe, kyk of daar iewers ‘n tafel of iets soortgelyk is waarby ek my heimwee kan wakker ruik. Einde ten laaste maak ek maar die bakkie se klap agter oop en gaan sit daarop, die boksie slaptjips langs my. My morele soeklig soek na iets bekend, al is dit nou maar ook in die reuk van die slaptjips. Die reuk wil-wil herrinner aan iets uit die verlede, die smaak sonder asyn en rooipeper glad nie. Na vier of vyf tjips maak ek vrede dat Ventersburg nie Balfour is nie. Ek vou die boksie toe en hou dit na van die kinders wat so entjie van my, my met nuuskierige oë dopgehou het. Ses hande gryp na die boksie en die suksesvolle twee se eienaar hardloop met die boksie in albei hande na ‘n stukkie grasperk oorkant die pad, die gevolg jillend agterna. Immers is iemand darem gelukkig oor die slaptjips. Ek verwonder my oor hoe die kind met die boksie in albei hande hardloop. Danie Gerber het ook altyd só, met die bal in albei hande, gehardloop…Ek sit en kyk hoe die kinders gulsig die slaptjips verorber. Hul hande stoot en gryp na die tjips in die boksie voordat hulle dit in hul monde druk en bolwang staan en kou. Is dit hoe ons as koshuisbrakke ook geëet het?

Sowat tien minute later draai ek die bakkie se neus suidwaarts op die N1. Ek dink aan die kind wat soos Danie Gerber gehardloop het. Ek dink aan die slaptjips en dié se reuk wat amper dieselfde geruik het. Ek sit die radio aan. Om Steve de Villiers se vriendelike stem is nie daar nie, Gerhard Viviers s’n ook nie. Amper weemoedig vryf ek my hand oor my bolip en mond. Die grys stoppels krap seer aan my wysvinger waar ek myself gisteraand per ongeluk raakgesny het. Die bordtjie sê Bloemfontein is nog eenhonderd en vyftig kilometer weg. Tussen alles bekend voel ek tog daar is meer onbekendes as bekendes. Die landskap verander, het verander. Nee, Saterdae is verseker nie meer dieselfde nie…

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized

Padkaart

Begrafnisse vermy ek gewoonlik, as ek ’n keuse het.

Vandag het ek egter ‘n begrafnis-gedenkdiens bygewoon, van ‘n man wat ek glad nie geken het nie. Hierdie man, ‘n tandarts en een van my vrou se kliente, is onverwags in Desember oorlede is. My teenwoordigheid was meerendeels ter ondersteuning van my vrou. En daar skenk hierdie onbekende man aan my ’n padkaart met wonderlike rigtingwysers wat ek dikwels miskyk, van anderkant die graf as’t ware.

Die gedenkdiens was om die lewe te vier, soos die man se vrou daarna verwys het. Daar was geen teken van ‘n begrafnis in die tradisionele sin van die woord nie. Enige iemand wat dit wou bywoon, was welkom. Gesinslede, familie en vriende het op ‘n kleinhoewe noord van Johannesburg bymekaargekom, hulself op die grasperk tuisgemaak en bloot eenvoudig mekaar se geselskap geniet. Oral sit groepies mense, sommige op stoele wat saamgebring is, ander sommer op die gras. Honde met swaaisterte speel en hardloop vrylik rond,  bedelgroet by die groepies  vir ‘n happie of gee elke nou en dan vir een van die klein kinders ‘n leksoen. Elke nou en dan lag iemand hoorbaar, of ‘n vriendelike stem vra of jou drankie en eetgoed nog reg is.

‘n Ooglopend lewenslustige, mooi, jong vrou beweeg ons met grasieuse arm-en handgebare  na ‘n natuurlike koepel tussen bome en struike weggesteek. ‘n Klompie stoele en twee tuinbankies binne die boomsambreel getuig dat meer mense as verwag, opgedaag het. ‘n Klein tafeltjie, versier met helder blomme en ‘n foto van ‘n man wat lekker lag, herrinner aan die onderliggende hartseer . Die man in die foto het ‘n rooi papierkroon op sy kop. Agter brillense lag sy oë gelukkig, spontaan vir die kamera. 

“Dit was nou met hul Krismis ete gewees” fluister my vrou toe sy sien ek kyk na die foto.

Gesinslede getuig om die beurt oor hul man,  pa en broer  – ineengevleg tot ‘n harmonieuse koor van stemme oor herrinneringe geëts deur liefde en omgee  en humor in oorvloed. Elke stem bewe van hartseer, verlange. Die dankbaarheid in elke stem val op; Dankie vir leiding en voorbeeld, ‘n geduldige oor, kennis oor en in die natuur. Dankie dat ons kon lag, saam kon huil. Dankie vir ‘n liefdevolle man, pa en broer. Dankie vir die omgee vir ander mense. Dankie, dankie, dankie…

En ek luister, en ek dink. Dié man moes ‘n besondere mens gewees het…

En ek dink…

Wat sal my geliefdes eendag oor my kan sê?

Sal hul dankbaar wees, en verlange en hartseer ook in hulle stemme bewe?

Gaan hulle ook fier voor die wêreld kan staan met ‘n knapsak vol mooi herrinneringe en lewenslesse?

Ek sal die saad van dankbaarheid moet saai, en vertroetel, en water gee voordat ek dit kan oes. So ook hul hartseer en verlange.

Ek sal hul knapsak vol herrinneringe en lewenslesse moet prop.

Ek, ék, sal dit moet doen..

En ek besef dat hierdie man my vandag ‘n les oor die lewe geleer het, ‘n profeet in ewigheid wat my herrinner dat ek skepper is van my geliefdes se herrinneringe. 

Ek, en ek alleen, skryf woorde vir getuienis wat oor my gelewer sal word. Elke dag, elke uur, elke oomblik beitel en ets my woorde, my dade, lewenslesse en herrinneringe in die nalatenskap aan my geliefdes….

Dankie, onbekende man.

Dankie dat jóú nalatenskap ‘n rigtingwyser vir my kon wees.

Dankie dat jóú geliefdes se getuienis my herrinner dat my huwelik, my gesin, elke dag gekoester moet word met liefde en omgee.

Dankie dat jy my daarop wys dat die vrugte van my gees in die nalatenskap aan my geliefdes gestalte kan vind.

Onbekende man, sonder dat ons ooit ontmoet het, stel jóú nalatenskap ons aan mekaar voor. Ek leer van jou liefde vir die natuur en jou empatie met mense wat min het.

Jou humorsin laat my glimlag, en in ongeloof skud ek my kop  oor jou soms ongevraagde hardkoppigheid.

Ek leer oor jou liefde vir jou vrou en kinders en dat onvoorwaardelikheid die fondasie daarvan is.

Bekend maak bemind en op ‘n semantiese reis vol avontuur en kwinkslae leer ek jou ken. Deur die woorde van geliefdes kalwe jou beginsels diep kepe in my gevoelige sin vir respek.

Hoewel ongewoon, ontwikkel ’n vriendskap in jou oënskynlike afwesigheid. In die wandelgange van my gemoed verbreek ons die skanse van onbekend tot rommelhope en herbou fondasies tot forte waarin ons ’n kosbare nalatenskap vir ons geliefdes bymekaar kan maak en beskerm.

Dankie my onbekende, bekende vriend vir die padkaart wat jy aan my skenk. 

Dankie Ernst Fockema!

5 Kommentaar

Filed under Uncategorized

Ek is onnossel…

Ek is onnossel.

Tewens, ek is so onnossel dat ek nou eers besef dat ek onnossel is…

My status as onnossel is ‘n geskenk van my kinders af, hulle het dit sommer net vir my gegee. Al wat ek oënskynlik moes doen is om niks anders te doen nie, omtrent soos die belofte van ‘n ewige lewe waarvan die Bybel ons leer. As jy daaraan glo, kry jy dit “free, gratis en verniet”. Solank jy dit glo en dienooreenkomstig optree, word jou status en die belofte van sielsaligheid gehandhaaf en is jy deel die Bybel gelowiges.

Met die onnossel status word die geloof deur die kinders gehandhaaf terwyl jy bloot voortgaan met jou lewe en optree soos enige ouer normaalweg optree. Die kinders doen die werk, dra die kruis om deurentyd te glo dat hul ouers onnossel is en solank hulle optrede daarvan getuig kan niemand jou status verander nie. Mettertyd, soos die oortuigings groei, word kinders sodanig meegevoer in die vurigheid van hul geloof dat hulle meer tyd daaraan spandeer as met enige iets anders en verteenwoordig sodoende groepering van Sosiale gelowiges.

Soos met enige iets wat jy verniet kry, is daar maar altyd die verpestelike fynskrif – die “tees and sees”, wat bepaal dat jy, soos die Bybel gelowiges, vrede moet maak. Jy moet vrede maak dat jou kinders die vryheid het om te kies waar hulle hul geloof wil uitleef, soos Bybel gelowiges ook maar kies tot watter denominasie hul wil behoort. Demoninasies soos Facebook of Instagram of Twitter of WhatsUp of enige vorm sosiale media waarmee die kind gemaklik is, blyk die gewildste keuses vir Sosiale gelowiges te wees. Die kinders is egter nie beperk tot net een denominasie nie en kan aan soveel denominasies te behoort as wat hul wil. Dit blyk dat die kinders se “reg en vryheid van assosiasie” asook hul vermoë en toegang tot data ‘n deurslaggewende rol speel in die aantal denominasies waaraan hulle behoort. Demoninasies speel ‘n belangrik rol in die lewe van die Sosiale gelowiges want dit is waar hul bymekaar kom, die plek van aanbidding.

Die kinders aanbid deur te spog en te pronk met die vlak van onnossel wat hul ouer of ouers die voorafgaande paar dae gehandhaaf het. Hoe hoër die ouer se vlak van onnosselheid, hoe meer intens is die kind se geloof. Meegevoer deur die pronk-en spog getuienis van ander gelowiges, aanbid kinders soms so vurig en intens dat getuienis oor ouers se vlakke van onnossel in tussenposes van ure en selfs minute plaasvind. William Golding beskryf soortgelyke tonele in sy boek Lord of the Flies en verwys daarna as ‘n “frenzy”, en ek kan aan geen beter beskrywing dink om hierdie intense aanbidding ook as ‘n “frenzy” voor te hou nie. Dit alles verduur ons kinders in die naam van hul geloofsoortuiginge, ter behoud van hul geskenk aan ons, aan my.

Desondanks selfstandige onafhantlikheid en gevestigde geloofsoortuiginge, het die kinders tog soms ons insette, leiding en liefde nodig om hul geloof rigtingvas te hou. Vanoggend vra die meisiekind iets en vrypostig verskil my antwoord van dit wat sy blykbaar wou hoor. Hoe op dees aarde kan enige mens ‘n verkeerde antwoord gee en NIE bewus wees van ‘n onverbeterlik-gedefiniëerde, vooraf-bepaalde antwoord as jy nooit die waagmoed openbaar om die Universele Eutopia van Telepatie te beproef nie? En so, sonder dat my optrede enigsins afwyk van hoe die deursnee ouer moet optree, sonder seremonie, sonder moeite, met ‘n tiksel eerlikheid vir kleur, versterk ek haar geloof. Met nuutgevonde oortuiging begeef sy haar in diepe aanbidding. Vurig, oënskynlik vreesloos, getuig en spog sy teenoor meelopers in die Heiligdom van Sosiale gelowiges van haar onwrikbare geloof. In ‘n gebaar van diepe oortuiging, kop omlaag, haar gesig verberg van die bose blik van onnossel ouers, eggo haar getuienis met klein handgebare en ervare vingers teen die kranse, klowe en dale in die Kuber Koninkryk. Elke oog sien, elke oor hoor dat sy onwrikbaar staan in haar oortuiging. Elke detail, elke sin word deur mede aanbidders beaam met ‘n “hoor, hoor”, soms galm “amen” ook oor die eensame vlaktes van Kuberania, elkeen ten doel om die fondasies van haar geloof in sement te verewig.

Ja my kind, ek is onnossel. Solank jy jou geloofsoortuiginge uitleef, sal ek vir jou onnossel wees. En ek is trots dat my vlakke van onnossel jou as ‘n vurige getuie vestig en voorhou aan diegene met dieselfde oortuiginge. Ek belowe, as ouer en ook as Bybel gelowige, om myself as onnossel voor te hou deur jou deurentyd teen verkeerde maats te waarsku, en jou op die gevare van dwelms en alkohol te wys en ook om jou onafhanklike wysheid en brose lewenservaring met my oningeligde, onervare wysheid uit te daag. Ek sal jou behoefte tot ‘n onwrikbare geloof nooit versaak nie, want as onnossel ouer en Bybel gelowige met Neanderdal oortuigings, is dit vir my belangrik dat jy gelowig moet bly.

Ek belowe ook om die gelag van volgelinge in jul Heiligdom van Sosiale gelowiges te verduur en om eendag al my besittings en ervaring aan jou te bemaak sodat jou kinders ook die wonderlike voorreg van onnossel ouers kan ervaar…

2 Kommentaar

Filed under Uncategorized

Meesterlike kunswerke

Op jou lewenspad is daar heelparty mense en gebeurtenisse wat etse in jou geheue, jou karakter,  kom kerf. Soms is dit net ‘n skrapie wat vining genees sonder enige blywende littekens. Ander weer kerf diep en laat permanente merke wat nie eers deur tyd verwyder kan word nie. Elke ets het sy eie unieke eienskappe en voorkoms, en elkeen verleen eiesoortige emosies aan die karakter wat dit huisves. Daar is natuurlik ‘n magdom redes vir elke karakter se unieke versameling etse, sommige heuglik, ander hartseer.

My versameling etse is bymekaargemaak op ‘n reis waar omtrent elke hawe op my padkaart een of meer merke gelaat het . So het ek jare gelede in die hawe van my jeug ‘n meisie, Corne van Rensburg, raakgeloop wat ‘n lekker diep kerf in my geheuestam uitgekrap het. “Senings” het sy daarop uitgekrap. In die tyd waartydens ek in hierdie hawe gebly het, het Senings homself tuisgemaak en gereeld in my oorkussing kom knus. Ek was bevoorreg om hierdie Hawe op die rugbyveld te verteenwoordig, en was ook die speler wat skoppe na die pale waargeneem het. Elke keer as ek aangelê het pale toe, sonder uitsondering, het Corne vir Senings dieper uitgekrap en my daarvan laat kennis neem. Elke keer was Senings duideliker. Elke keer was Senings meer prominent en het onseremonieël deel van my skop roetine geword. Corne het lateraan vir Senings op ‘n daaglikse basis dieper uitkrap, tot ander bekendes in die hawe ook naderhand saamgekrap het.

Onvermydelik het my veblyf in die hawe van jeugdigheid tot ‘n einde gekom en moes ek noodgedwonge van Corne en die ander inwoners afskeid neem. Senings het verder saam gereis. Soos ek verder gevaar het, het die hawe van jeugdigheid anderkant die horison verdwyn. Senings was, nes ek, aan allerhande elemente en uitdagings blootgestel en soos ons reis langer geword het, het ek hom naderhand op die solder gebêre. Daar het hy dikwels vol stof geraak, soms amper onherkenbaar. In later jare het ek weer by die hawe van jeugdigheid aangedoen. Tot onsteltenis moes ek verneem dat my visum tot die stad verval het en moes ek oor die stadsmure loer of ek vir Corne en die ander bekendes kon sien. Ek het verneem dat die nuwe heersers in die hawe van jeugdigheid vir Corne en die ander bekendes wat daar gebly het, gevra het om die stad te verlaat. Hulle was blykbaar gedwing om elkeen in sy eie rigting verder te reis. Ek het Corne nooit weer gesien nie, en het Senings elke nou en dan afgestof tot leesbaar en alhoewel hy naderhand verrinneweer en onversorgd voorgekom het, het ek botweg geweier om van hom ontslae te raak. My reisgenote van later jare het nie veel erg aan Senings gehad het nie. Ek dink hulle het nooit regtig my verknogdheid aan Senings verstaan nie.

Vanoggend bel een van die ander bekendes wat saam met my en Corne in die hawestad van jeugdigheid gebly het, Erna, met nuus oor Corne. Corne is gister oorlede. Kanker. Dis aaklige nuus en die ongevoeligheid daarvan ontneem my van suurstof, my bors brand en woorde ontwyk my soos ‘n terggende, onnutsige jongeling. Ek onthou nie eers hoe die res van die gesprek verloop het en of ek met goeie maniere gegroet het nie. Ek gaan haal vir Senings op die solder en stof hom stadig af, met ‘n sagte lappie. Soos die stof en spinnerakke verdwyn sien ek vir die eerste keer werklik die meesterlikheid waarmee Senings gekerf is. Ek onthou waneer en waar elke kepie gemaak is, meestal Corne se handewerk. Vir ‘n rukkie sit ek net so,  vryf en vertroetel vir Senings en voel skuldig oor die manier waarop ek heeltemal te min aandag aan hom gee. Meteens, soos jare gelede in die hawe van jeugdigheid, reageer Senings op die koestering en knus homself teen my oorkussing, asof niks verander het nie…

RIP Corne van Rensburg (Coetzee), en dankie vir alles wat Senings in my lewe beteken.

Lewer kommentaar

Filed under Uncategorized

Perdedinges en luukshede…

“Jacobus het nie gisteraand huistoe gekom nie” sê tant Rienie se stem in my selfoon, en ek hoor sommer sy is uitasem, ampers histeries. “Hoekom, waar, hoe weet tannie?” vra ek stotterend sonder om te dink en kyk op my horlosie. Dis twintig voor ses in die oggend…

Tant Rienie is ‘n ouerige vrou wat sedert my skooldae in die familie kom nesskrop het. Sy het nog nooit vir geld gewerk nie en sedert oom Herklaas destyds oorlede is, verwyl sy haar dae  meestal deur by almal in die familie te klets en te kuier, en meer by diè wat ‘n geduldige oor verleen. Met die dat haar gereelde kuiermaats; – Ouma Tokkie, Tant Lenie, Tant Loeloe en diè klomp, almal die afgelope klompie jare “vort” is, is my oor deesdae Tant Rienie se geduldigste klankbord. Jacobus, haar enigste kind, vertolk gewoonlik die hoofrol in die sepies waarmee Tant Rienie my oor se geduldigheidsvlakke mishandel.

Jacobus is, wel, myns insiens, ‘n Bliksem wat die kuns van kak aanjaag tot ongekende vlakke definieer. Indien hy en sy hou-vrou, Leticha, nie mekaar pimpel en pers donner nie, suip hulle soos visse, of verdwyn sommer net; – soms vir dae aanmekaar. Dan sorg die agtergeblewene natuurlik dat onse land se selfoonreuse skatryk bly deur almal suid van die Sahara te bel oor die tragedie van Jacobus of Leticha wat (weer) iewers in ‘n donker goddelose stegie “dood” lê. Almal in die familie moet help soek, todat die persoon waar die “wegloper” hierdie keer nugter gaan word het, raakgebel word. Die verlore seun, of dogter,  word dan in ‘n emosionele snot-en-tranedal terugverwelkom en geklee in ‘n spik-splinternuwe jas vol beloftes en toekomsverwagtinge…

Die Here alleen weet waarom almal, en sy of haar tjommie, my altoos kom belas met al hulle se probleme, en antwoorde van my kom bepleit. Asof EK nou die hedendaagse Messias is, die WYSSTE van die wêreld se wyses, die man met antwoorde op alles en almal se probleme. Ag nee, heerlikheid man! As ek wel antwoorde op die ganse heelal se probleme het, hoekom het Bill Gates steeds meer geld as ek? En waarom, waarom, rek ek nie soms my BEK instede van om altyd te luister nie? Ai, ek hoor al vir Seningswyf sê; “Jy verkoop jouself mos as perdedinges vir vye. Moenie kla as almal ‘n happie van jou wil hê nie!”

“Leticha het my gebel, sy is rasend van bekommernis” sê Tant Rienie weer in my oor.

“Ek sal kyk wat ek kan doen” sê ek sonder dat ek werklik weet WAAR ek moet begin kyk. Seningswyf sit ‘n koppie koffie langs my neer. Sy sê niks nie, trek my kop saggies nader en soen my op die voorkop…

Twintig minute later bel ek Tant Rienie terug.

“Jacobus-hulle het gewerk, blykbaar een of ander krisis. Sy baas sê hulle behoort in die volgende uur klaar te wees…”

Kan die verdomde vent nie net huistoe gebel het en sy hou-vrou vertel het dat hy laat gaan werk nie? Is ‘n ontwikkelde verantwoordelikheidsin werklik so ‘n onbekostigbare luuksheid dat sommige wesens dit NIE in hul oënskynlik ontoereikende lewenswyse kan bekostig nie?

My foon lui weer. Dis Leticha. Sy wil net vinnig dankie sê en sommer hoor of die kinners reg is vir vandag se atletiek…

Shi..ooot, ons moet sewe uur by die skool wees. Pampoenstingel se eerste naelloop is twintig-oor-sewe…

“Is julle klaar, ons moet ry” sê-vra ek in die gang af…

2 Kommentaar

Filed under Uncategorized

Joemin raaits…

Elke Maandagoggend hou ons ‘n vergadering waar ons oor die komende week se aktiwiteite raai en daarvolgens probeer beplan. Indien dit simplisties en totaal anargies voorkom, is dit juis wat “projections” is – jy raai wat more en oormore en die dae daarna behoort te gebeur en vertel aan diegene saam met jou wat jy raai en waarom jy so raai. So kry elkeen in die vergadering ‘n geleentheid om aan die ander te vertel oor sy of haar raaiskoot en die redes daarvoor. In die finale fase word al die raaiskote, en redes, in ag geneem en dan raai ons gesamentlik oor watter raaiskoot en redes die waarskynlikste kan gebeur…

Moontlik is hierdie siniese siening die gevolg van my moerigheid omdat daar (alweer) in die middel van die week ‘n verdomde vakansiedag is om ons raaiskote te bevonkfaai. Hoe de swernoot verwag enige iemand dat jy sinvol kan raai oor wat die week gaan gebeur as jy meestal nie eers kan raai watter vakansiedag in die komende week verskans is nie. Boonop het ek die geneigdheid om te vloek as ek groot skrik en dié nuus ervaar ek asof iemand onverwags ‘n emmer yswater op my kop uitgooi. Ek mag en sal nie herhaal wat ek gewoonlik kwytraak as ek so groot skrik nie..

Watse vakansiedag is dit, vra ek bibberend van die koue. “Joemin raaits” klink dit soos ‘n koor om die tafel. Fo… Verdomp, kan die ouens wat vakansiedae maak nie die goed op ‘n Maandag of Vrydag instel nie? Dit maak mos meer sin as ‘n bli.. uhmm, verdomde, vakansiedag in die middel van die week wat die hele week se strategiese raaiproses opfoeter. Langnaweke is tog baaie lekkerder as EEN  vakansiedag in die middel van die week…

En hoekom moet ons “joemin raaits” vier? Ek is gesond, ek loop en eet en drink en doen alles wat die deusnee “joemin” uit genade as voorregte behoort te beskou. Het die Vader ons werklik sodanig versaak dat ons deesdae meer begaan is oor regte as voorregte, of verantwoordelikhede. Op watter stadium, en hoekom, verander voorregte in regte? Of doen dit werklik?

Die keersy van ‘n reg, hetsy dit nou ‘n reg of ‘n voorreg is, is ‘n verpligting. Dit maak myns insiens sin om te aanvaar dat “regte” en “voorregte” vloei voort uit verantwoordelikhede. Hoe meer verantwoordelikhede jy het, hoe meer regte of voorregte behoort jy te hê. En met “verantwoordelikhede”  impliseer ek dan ook dat dit verantwoordelikhede is wat jy daadwerklik aanvaar en ter goeder trou daarteenoor optree en nie kwasi-verantwoordelikhede wat lukraak goedkoop gemaak word soos daardie “verantwoordelikhede” waarmee politici en diegene wat politieke aspirasies het, te koop loop.

Ek dink per se dat diegene wat wêreldwyd die hardste skree en aandring op “regte”, die minste bydra tot die welvaart en behoud van hierdie planeet…

Miskien is ek sommer net moerig.

Dalk raai ek maar net…

7 Kommentaar

Filed under Uncategorized

Meisies!

Elke huisgesin het hul eie retoriek en gebruike. As kinders is ons soggens bymekaargemaak vir “aandagtyd”, bidtyd, voor ons onsself kon besig met wat ons ookal beplan of die dag aangebied het. Oupa en Ouma was my grootmakers en Oupa het altyd gebid, tensy iemand anders gevra het om te bid. Voor sy gebed het Oupa altyd gevra waarvoor hy seëninge moes vra, of dankie sê. Versoeke tot seëninge was opsioneel maar elke oggend moes ons iets vermeld waaroor ons dankbaar is. Dankbaarheid is ononderhandelbaar het Oupa ons altyd herrinner.
Hierdie gebruik pas ek vandag ook in my gesin toe.
Meisiekind van agt het weinig tot min variasies en is altyd dankbaar vir die bome en blomme, Mamma en Pappa en haar diere.
Pampoenstingeltjie is twee jaar jonger en is op ‘n oormaat van waarskynlikhede dankbaar vir allerhande speelgoed, sy maters en soms, meestal terloops, vir Mamma en Pappa.
Sussie is nie groot op seëninge vra nie.
Boetie weer het ‘n redelik gevestigde manuskrip van seëninge waarvoor hy pleit. Die inhoud variëer gewoonlik aan die hand van populêre speelgoed en “gadgets” van die oomblik.
Vanoggend sê Pampoenstingel ek moet vir Liewe Jesus sê hy is dankbaar vir die meisies.
Watter meisies wil ek weet.
Al die meisies, antwoord hy selfondaan.
Hoekom?
Waaant, ek dink hulle is mooooii!!!
Stilte.
Seningswyf loer met ‘n onderdrukte glimlag onderlangs na my.
Uhhhmm, ouuuu..kay…
“Ons Hemelse Vader,…”

Sien jy nou, sê Seningswyf toe ons uitstap.
Sien ek nou wat, wil ek weet.
Sy antwoord my nie, prulmond gemaak verontwaardig net. Blaas darem vir my ‘n soentjie toe sy en die spruite in haar kar klim.
Baaai Dêrrie, skree en waai Pampoenstingel halflyf deur die venster toe hulle uitry…

1 Kommentaar

Filed under Uncategorized